
Wilderness, Western Cape
Igna Mollentze
My Bek-a-Buddy-nominasie vir Iggie ❤️ Ek wil graag vir Igna Mollentze, oftewel Iggie, nomineer. Iggie is 85 jaar oud, maar as jy haar ontmoet, sal jy vinnig besef dat ouderdom haar beslis nie terughou nie. Sy is altyd besig en vol lewe. Sy bak beskuit, kook heerlike marmelade en maak die mooiste, lekkerste lemoenstroopkoeke – wat sy selfs aan die Wildernis Spar lewer. Sy is iemand wat graag besig bly en steeds iets vir ander doen. Musiek is ook ’n baie belangrike deel van Iggie se lewe. Sy sing elke week en is elke Sondag getrou in die koor. Haar glimlag en haar stem is deel van wie sy is, en sy geniet dit om saam met ander te sing. Ongelukkig het een van haar voortande getjip. Alhoewel dit dalk vir iemand anders na iets kleins kan klink, raak dit haar selfvertroue en haar glimlag. Sy kan dit ongelukkig nie op haar huidige inkomste bekostig om die tand te laat herstel nie. Ek dink Iggie verdien hierdie geleentheid nie net omdat sy ’n tand nodig het nie, maar omdat sy op 85 steeds so baie gee, doen en bydra. Sy maak dinge met haar hande, deel haar gebak met ander, sing vir die Here en bring steeds vreugde na die mense om haar. Om haar weer met selfvertroue te laat glimlag wanneer sy sing, bak en met mense omgaan, sal vir haar baie meer beteken as net ’n mooi tand. Dit sal vir haar ’n klein stukkie ekstra selfvertroue en waardigheid gee. Ek kan aan niemand dink wat dit meer verdien as ons liewe Iggie nie. ❤️
